Uit my Kuierkombuis

Vir ‘n Vrydagaand is dit altyd lekker om sommer iets ligs te maak wat almal van gaan hou.  Iets soos pizza ……………. Indien jy nie self die deeg wil maak nie,  koop ‘n  sakkie brooddeeg om te gebruik as basis vir die pizza.

Wanneer ons braai en daar bly van die wors oor,  vries ek dit  om later te gebruik om ‘n heerlike pizza te maak met boerewors wieletjies.

Kom ons kyk wat gaan ons alles nodig kry om die pizza mee te bou ………….

Pizza met braaivleiswors

6 tot 7 stukkies gaar, koue boerewors

1 kg brooddeeg

300 g mozzarella grof gerasper (3 kop)

1 blik tamatiebredie,  fyngemaak in voedselverwerker

1 ui fyngekap

olie

½ t droë origanum

½ t droë basiliekruid

½ t droë Italiaanse kruie

Knoffelvlokkies (geweek) / ingelê in olie

Varsgemaalde swartpeper na smaak

¼ kop blatjang

Vars of gedroogde pietersielie

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 220°C en smeer of bespuit met kleefwerende middel 2 bakplate (37cm)
  2. Sny die koue gaar boerewors op in dun wieletjies en hou eenkant.
  3. Rasper die mozzarellakaas en hou ook solank eenkant.
  4. Deel die sakkie brooddeeg in twee en rol dit uit op ‘n meelbestrooide oppervlak sodat dit in die voorbereide bakplate kan pas.
  5. Hy is geneig om so bietjie weer in te krimp,  maar druk hom net nog so bietjie met die vingers sodat hy weer mooi pas in die bakplaat.
  6. Smeer bietjie olie (ek verkies olyfolie om hier te gebruik)  oor die oppervlakte en plaas die bakplaat in die voorverhitte oond vir 10 minute.  Indien u oond groot genoeg is ………. kan albei bakplate gelyk ingaan,  andersins,  een vir een.
  7. Maak intussen die blik tamatie en uie smoor fyn in die voedselverwerker.
  8. Soteer die gekapte ui in ‘n bietjie olie en voeg die kruie daarby sowel as die fyn tamatiesmoor, origanum, Italiaanse kruie, knoffelvlokkies en blatjang.  Laat die tamatiemengsel prut vir so 5 minute en geur met varsgemaalde swartpeper.  Laat bietjie afkoel.
  9. Smeer nou die afgekoelde, geurige tamatiesmeer oor die gebakte pizzabasisse.
  10. Verdeel die boereworswieletjies tussen die twee pizzabasisse en strooi die gerasperde mozzarellakaas bo-oor.  
  11. Rond elke pizza af met ‘n bietjie vars gekapte pietersielie of ‘n bietjie gedroogde pietersielie.
  12. Plaas die gevulde pizza terug in die voorverhitte oond en bak vir ‘n verdere  10 tot 12  minute of totdat die kaas begin verbruin.
  13. Sny in blokke met ‘n skerp mes ………………. en smul.

In plaas van die worswieletjies,  kan enige gegeurde of weense worsies,  oorskiet gemarineerde ribbetjie vleisstukkies of gerookte hoenderborsies gebruik word.  In die geval van die gerookte hoenderborsies,  kan ‘n ekstra soetsuur sous of soetrissie sous oor die vleisstukkies gegooi word voordat die kaas bo-oor gerasper word.

Die pizzablokkies kan natuurlik in snoephappiegrootte ook gesny word as deel van ander versnaperings op ‘n soutbord.