Trump maak historiese deurbraak

President Donald Trump van Amerika het nog ʼn deurbraak gemaak om vrede in die Midde-Ooste te bevorder toe hy die Arabiese staat Bahrein oorreed het om betrekkinge met Israel te normaliseer.

President Trump het die aankondiging die afgelope naweek gemaak en sy tevredenheid uitgespreek dat daar binne 30 dae twee Arabiese state hulle bereid verklaar het om betrekkinge met Israel te normaliseer en daarmee ook ʼn sprong vorentoe gegee het om vrede te bevorder.

Kort tevore het die Verenigde Arabiese Emirate die eerste Arabiese staat geword wat bereid is om die wapens neer te sit en betrekkinge met Israel aan te gaan soos wat interstaatlike betrekkinge gehandhaaf word.

Kenners beskou die merkwaardige prestasie as van besondere belang aangesien geen Amerikaanse president ooit gepoog het om so n stap te neem en dan suksesvol deur te voer nie.  

Politieke ontleders reken die president se inisiatief gaan uiteindelik lei tot meer Arabiese lande se bereidheid om met Israel normale verhoudings aan te gaan.