Tifoon bedreig miljoene in Japan

Die suidelike gebied van Japan word met n tweede tifoon binne een week bedreig, en miljoene mense word gevra om die gebied te verlaat.

Die verskuiwing van die mense word egter bemoeilik weens die koronavirus pandemie wat sosiale afstand vereis.

Tifoon Haishen is in aantog om meer as 7 miljoen mense se lewens te ontwrig, en die owerheid het ʼn dringende beroep gedoen op die inwoners om die gebied te verlaat.

Swaar en deurdringende reën, sterk wind en reuse branders het die kus bereik wat Eerste Minister Shinzo Abe beweeg het om Maandag n dringende kabinetsvergadering byeen te bring om noodmaatreëls in plek te kry.

Windsterkte van tot 220 km per uur word verwag, en landelike gebiede het Maandag die eerste reën gekry wat binne enkele ure 75 mm was terwyl die ergste toe nog nie die land bereik het nie.