Terugblik na die Verwoerd-era

Die uiteenlopende en wye terugblikke in die media rondom 6 September jaarliks spreek van die statuur van Suid-Afrika se laaste staatsman, en sekerlik die laaste nasionale leier van formaat wat ons volk opgelewer het.

Die belangrikste nalatenskap is diegene wat vandag steeds opreg en konsekwent die ideale, maar ook die waardes en lewensbeskouing, van doktor H.F. Verwoerd eerbiedig deur toepassing, uitlewing en oordrag na ʼn volgende geslag.

Naas dit, moet ons raaksien dat doktor Verwoerd in sy leeftyd, in sy doen en late, nie net ʼn formidabele leier was nie, nie net ʼn waardevolle historiese voetspoor en rigtingwyser vir sy volk nagelaat het nie, maar hy kon uitstyg bo sy hede, bo sy eie belange en hy kon werk en bou aan ʼn land vir sy volk, ʼn land óók vir elke ander volk.

Maar hy was ook onverbiddelik:

elke volk moet hul geleenthede en ruimte SELF opneem, SELF ontwikkel, SELF onderhou.

Hoe hierdie gebalanseerde beskouing, en sy toepassing daarvan, die vele gevestigde belange ontbloot en met hervorming bedreig het, hoe dít ingespeel het op die twee aanslae op sy lewe, spreek opsigself van die inherente reg en regverdigheid van sy beleidsrigtings.

Hierdie feit moet ons aanspoor om nie die vryheids-ideaal te laat vaar nie, om teen alle valse stellings die beleidsrigtings van die Verwoerd-era na te streef.

Hierdie moet ons egter óók voor die spieël van ons eie geskiedenis, van ons eie huidige optrede, stel.

Seker die belangrikste les wat na ses dekades steeds nie konsekwent toegepas word nie, is die grondslag van EIE ARBEID.

Die gemaksug en materialisme het die vreemde arbeider na ons dorpe en stede bly trek, en die destyds-vermybare verval het ingetree.

Tweedens, die uitgesproke “goeie bedoelings” van politici en geldmagnate moet nooit op sigwaarde geneem word nie.

Daar was gedurende die Verwoerd-era (en sederdien) etlike politieke mislukkings – dit was egter mislukkings weens die onderduimse wese van party-politiek en die gierigheid van die geldmagnate wat gesonde beleidsrigtings verwater en verdraai het.

Maar bo alles was doktor Verwoerd ʼn sprekende voorbeeld van leierskap:

Hy was in staat om die onderskeid tussen politiek en leierskap ten behoewe van die land en mense.

Hy was bereid om met ʼn langtermyn visie te werk aan standhoudende oplossings, nie bloot vir kosmetiese aksies afgestem op korttermyn politieke punte nie.

Hy kon onbeskroomd die ware risiko’s van die destyds ontluikende rasse-terreur peil en aanspreek, waarsku en billike oplossings bied.

Die vraag is of die Afrikaner in 2020 hierdie lesse gaan toepas, die waardes weer gaan opneem, maar veral moue gaan oprol en WERK.