Staat entiteite bedel weer

As die verskillende entiteite wat onder die staat se beheer is dink hulle gaan geld uit die Covid Noodfonds kry, moet hulle opstand in die land verwag, want dit gaan nie toegelaat word nie.

Dit is die mening van ʼn ekonoom wat reken die entiteite staan weer in n ry om geld van die Tesourie af te bedel.

Die Poskantoor bedel dat die regering R4,9 miljard moet gee sodat die bankrot entiteit staande gehou kan word.

Asof dit nie genoeg is nie, bedel die nasionale uitsaaier, SABC, om R1,5 miljard te kry sodat hy sy skuldlas kan verminder en noodsaaklike betalings kan doen.

Die lughawe entiteit het aansoek gedoen om R3,5 miljard af te bedel van die regering, en dan is die moontlikheid van bedel deur Eskom nog nie verreken nie.

Heelwaarskynlik sal Denel ook sy hand uit die mou haal om bakhand te staan, aangesien sy personeel dikwels sonder salaris moet klaarkom.