Sjina meng in by VSA verkiesing

Amerika se Nasionale Sekuriteit Adviseur, Robert O’Brien, het die afgelope naweek gewaarsku dat Sjina die grootste rol speel met inmenging in die VSA se presidentsverkiesing.

Volgens O’Brien is Sjina gereed met n reuse program om te verseker dat Joe Biden die verkiesing wen sodat die handel tussen Sjina en Amerika weer soos vroeër kan voortgaan toe Beijing miljarde dollar se voordele getrek het uit die VSA.

Met die koms van Donald Trump as president, is die bordjies verhang, en is die handelsooreenkoms gekanselleer en Sjina moes groter aankope uit die VSA doen om die handelsbalans tussen die twee moondhede meer eweredig te kry, wat nie deur die Sjinese nagekom is nie.

O’Brien wys daarop dat Sjina by verre die grootste inmenger in die verkiesing is, waarna Rusland in die tweede plek is met Iran in die derde plek.

Rusland sowel as Sjina ontken die bewerings, maar O’Brien sê die Amerikaanse Intelligensiediens beskik oor voldoende inligting oor die aangeleentheid, maar kan nie alle inligting vrystel nie.

Intussen het Beijing ook die beskuldigings verwerp en gesê Sjina het geen behoefte om in te meng in die presidentsverkiesing van Amerika nie.