Sjina en VSA pak mekaar in VN

Die verhouding tussen Sjina en Amerika het tydens die Verenigde Nasies se jongste vergadering verder vertroebel met beide lande wat nie gehuiwer het om beskuldigings rond te slinger nie.

Die kern van die bek-geveg het gewentel rondom die verspreiding van die Covid-19 koronavirus, en Sjina het selfs beweer dat Amerika die skuldige is want die land word beskou as ʼn bedreiging vir wêreldvrede.

Die virtuele vergadering van die VN het beide lande die geleentheid gebied om mekaar te beskuldig, en die VSA het weereens beklemtoon dat die koronavirus deur Sjina versprei is om die hele wêreld te besoedel en ekonomies te knel omdat die land vir weke geswyg het oor die gevaar van verspreiding.

Die VSA het die VN versoek om Sjina verantwoordelik te hou vir die derduisende mense wat gedood is en die reuse impak daarvan op die wêreld se ekonomiese stand.

Sonder om die feite te gee, het die Sjinese ambassadeur gesê die VSA het genoeg moeilikheid in die wêreld veroorsaak, en moet eerder samewerking bied.