Ramaphosa vra almal se hulp

Die groot finansiële gemors waarin Suid-Afrika hom bevind, moet nou deur almal se samewerking reggestel word, sê die ANC president.

Hy vra dat vinnige en sterk aksie geneem moet word aangesien die skokkende nuus duidelik ʼn uiters negatiewe invloed het op die land se geldsake.

Die verslag van die land se ekonomiese stand vir die tweede kwartaal toon dat die resultate met 51% verswak het vergeleke met verlede jaar ooreenstemmende tyd.

Die daling wat die grootste is in die afgelope ses dekades word nou glo om die nek van die koronavirus pandemie gehang.

Die president sê dit is nou nodig om die ekonomie vinnig te herstel, maar kenners sê dit gaan etlike jare neem om die ekonomie weer te kry op die vlak wat dit voor die pandemie was.

Hulle wys ook daarop dat die land se ekonomie voor die pandemie reeds deur verskillende graderings agentskappe na rommel status afgegradeer is, en dat dit nie die teiken moet wees nie.

Die regering word ook gekritiseer vir sy onvermoë om die ekonomie te versterk deur positiewe leiding te bied.