Ontnugtering

Dit is nie net die Boere-Afrikaners wat diep ontnugter is oor die toestand in Suid-Afrika waar korrupsie die groot ruïneerder is van die land se ekonomiese stand nie.

Dit is waarskynlik ook nie die Ja-stemmers wat nou ontnugter is nie, want die konserwatiewes het reeds voor 1994 gewaarsku dat die grootskaalse diefstal gaan plaasvind.

Dit is die ANC lede en ondersteuners wat nou ontnugter is. Nie oor die gesteel nie, maar oor die moontlike vervolging van die diewe, want as almal wat gesteel en korrup is,  aangekeer en toegesluit moet word, bly daar dalk te min oor om die werk te doen.

Die ontnugtering gaan egter nie so gou stol nie…. daar gaan nog baie gevalle oopgeruk word na die oppervlakte, en baie gaan toegesmeer bly en baie gaan nog steeds probeer om te steel terwyl daar sogenaamde geleenthede is.

Of al die korrupte vervolg gaan word, is sterk te betwyfel, en baie gaan op “korrupte” wyse die korrupsie vervolging vryspring.

Terwyl die ANC regering en sy hoof indoenas mekaar die stryd aansê is daar waarskynlik ander wat al weer planne in die mou voer om nog n paar miljoen in te palm op oneerlike maniere.

Een saak staan vas: Baie gaan miskien vervolg word weens korrupsie, maar veel meer gaan daarmee wegkom, en sodoende sal korrupsie voortduur asof geen vervolging ingestel is nie.