Nuwe Aanslag in Wêreld Landbou

Landbou in Suid-Afrika, maar ook in die wêreld, staan op die kruin van ‘n nuwe aanslag. Dit was ook die oorweldigende boodskap en tema tydens TLU SA se jaarlikse kongres wat vandag aangebied is.
As gevolg van die inperking is die kongres vanjaar vir die heel eerste keer virtueel aangebied en streke en affiliasies kon via Zoom inskakel.
Die uittredende president, mnr. Louis Meintjes het ‘n beroep gedoen op boere om meer betrokke te raak om die voortbestaan van landbou te verseker. “Ek dink die kritieke vraag is: ‘Word jy deel of bly jy agter? Verander jy of stagneer jy? Raak jy meer winsgewend of raak jy bankrot?’”.
Die hoofspreker van die kongres, Prof. Andrè Duvenhage, die Navorsingsdirekteur van Sosiale Transformasie by die Noordwes Universiteit het hierdie gedagte bevestig.
“Omstandighede gaan vorentoe heel waarskynlik moeiliker raak,” het hy gesê. “Die boerderygemeenskap is op hulleself aangewese en selfhelp en selfbestuur lyk na ‘n aangewese oplossing.”
Hy het verder gewaarsku dat die wysiging van Art.25 oor grondonteiening sonder vergoeding noodwendig sal voortgaan en dat groepe soos die BLF en EFF die reg in eie hande kan neem om grootskaalse anargie te veroorsaak. 
“Dit is nou die tyd om by mekaar te staan en mekaar te ondersteun,” sê hy. “Bou brûe na mekaar as landbou-organisasies. Bou brûe na mekaar as landbouers.
“Dit is ook die tyd om met alternatiewe planne na vore kom. Dit is die uitdaging van die nuwe leierskap van TLU SA om aan te pas by die veranderende omstandighede om relevant te bly in fundamentele sake, en om die belang van boere te bevorder op elke terrein van die samelewing.”
Tydens die verrigtinge is mnr. Henry Geldenhuys (vorige adjunk-president) verkies tot die nuwe president van TLU SA. “Dit is vir my ‘n eer en ‘n hoogtepunt, maar dit gaan oor TLU SA,” sê hy. “Saam sal ons TLU SA na nuwe hoogtes neem.”
Mnr. Wannie Scribante (vorige voorsitter van die Sentraal streek)  is verkies as die nuwe adjunk-president.