Motor rubriek – Mercedes-Benz CLS400d 4Matic 9G-tronic

Mercedes Benz het deur die jare ‘n naam opgebou as ‘n motor van formaat. Wanneer die drie-punt ster kenteken gesien word wat in die middel van die sierrooster gemonteer is, dan besef ‘n mens onmiddellik dat hierdie CLS400d ‘n motor is vir die fynproewer. Dit is inderdaad ‘n baie elegante voertuig!

Dit is vaartbelyn met ‘n windweerstand koëffisiënt van so min as 0,26. Agter die drie-punt ster is daar elektroniese toerusting gemonteer wat gebruik word om verskeie funksies te verrig.

Die hoofligte vorm deel van die voorste buffer en die lug inlate aan die linker en regterkant gelei lug na die voorste ABS geventileerde 360 mm remskywe vir verkoeling. EBD en EBA stelsels verleen hulp aan die ABS stelsel en dit verseker dat die motor wat 1938 kilogram weeg, met gemak tot stilstand kan kom.

Wanneer die deur aan die bestuurder se kant oopgemaak word en daar word in geklim, tref die eenvoud maar tog luukse en duursame afwerking aan die binnekant van die voertuig, ‘n mens se oog. Die Artico en Alcantara bedekte sitplekke verseker dat ‘n gemaklike sitposisie ingeneem kan word. Daar is seker gemaak dat daar vir al die strategiese plekke van die insittendes se liggame, ‘n ingeboude stut is en die gevoel wat ontstaan is dat ‘n mens voel jy is in die sitkamer by die jou huis op die rusbank. Ongelukkig is elektriese verstellings vir die bestuurder se sitplek nie standaard nie en moet dit spesiaal aangevra word.

Op die leer bedekte stuurwiel waarop ‘n deeglike greep toegepas kan word, is verskeie skakelaars gemonteer vir beheer van die toerusting. Deur die boonste gedeelte van die stuurwiel is die duidelik leesbare instrumente te sien met snelheidsmeter aan die linkerkant en die toereteller aan die regterkant. Ander kleiner instrumente maak deel uit van die gedeelte met die aanraak skerm in die middel van die instrumentpaneel. Wat dadelik die aandag trek is die aanraak skerm wat netjies inpas en nie ‘n “uitstaande” deel is nie. Tussen die aanraak skerm en die ander toerusting wat in die middel konsole gemonteer is, is die lug uitlate van die lugversorger stelsel. In die middel konsole is daar pak plek vir kleiner goedere.

‘n Elle lange lys van toerusting is gemonteer vir gerief. Van dit sluit in die radio met stem beheer, snelheidsbeheer, parkeer hulp met ‘n kamera, Isofix monteer punte, die stuurwiel wat verstelbaar is vir reik en hoogte verstellings, alle vensters word elektries beheer, banddruk monitering, snelheidsbeheer, hoofligte en windskerm veërs wat outomaties aanskakel ensovoorts.

Lugsakke aan die voorkant, sykante, gordyn en knieë voorsien beskerming teen beserings aan die insittendes tydens ‘n ongeluk.

Wanneer die enjinkap oopgemaak word is daar ‘n ses silinder 2925 kub. sentimeter, inlyn, diesel kragbron gemonteer met elektroniese brandstof inspuiting, dubbel turbo aanjaers en tussen verkoeler wat die krag deur middel van ‘n nege spoed ouotmatiese ratkas na die wiele oordra. ‘n Dubbel oorhoofse nokas met vier kleppe per silinder sorg dat die brandstof ingelaat word en daar van die uitlaatgasse ontslae geraak kan word. Die kragbron wat 250 kW krag voorsien en wringkrag van 700 Nm tussen ‘n 1200 o.p.m en 3200 o.p.m. verskaf, sorg dat die Benz van 0 tot 100 km/u in 5,41 sekondes versnel en volgens die vervaardiger is die topsnelheid 250 km/u met ‘n brandstofverbruik van 6,0 l/100km. Die kragbron wat gebruik word, staan bekend as die OM656 D29TT SCR.

Die veel speek, allooi wielnawe is geskoei met Goodyear Eagle F1 Asymmetric 3 bande met ‘n grootte van 245/30 R20 op die agterwiele en die bande op die voorwiele is 245/35 R20 van dieselfde fabrikaat.

Vir die voorste veerstelsel word daar gebruik gemaak van ‘n onafhanklike stelsel met ‘n multi-koppeling, spiraalvere en anti-rolstaaf en op die agterste veerstelsel word daar gebruik gemaak van ‘n onafhanklike stelsel met multi-koppeling, spiraalvere en ‘n anti-rolstaaf. Die stelsels wat gebruik word, verseker dat die Mercedes se padhouvermoë van hoogstaande gehalte is en die motor is eintlik in sy element op die snelweg.

Wanneer die bagasiebak oopgemaak word is daar 384 liter bagasieruimtes beskikbaar en wanneer die agterste sitplek se rugleuning vorentoe gevou word, vermeerder dit na 872 liter. Opmerklik aan die agterkant is die dubbel uitlaatpype wat ‘n storie van hulle eie vertel.

Vir Mercedes Benz motor liefhebbers is hierdie motor die toonbeeld van gerief en luuksheid en daar kan gerus oorweging aan geskenk word om u huidige motor te verruil vir ‘n CLS400d. Ai, sal darem graag self een wil besit!