Motor rubriek – Audi S6 TFSI Quattro Tiptronic

Die Audi S6 is een van my persoonlike gunstelinge veral omdat die Quattro aandrywing sorg dat padhouvermoë van hoogstaande gehalte is en ook om veiligheidsredes. ‘n Ander plus faktor is die krag wat beskikbaar is vanaf die kragbron.

Die tegniese spesifikasies van die S6 is inderdaad indrukwekkend. Vir sommige mag dit nie van belang wees nie maar soos reeds genoem is daar veiligheidsredes daaraan gekoppel en kan dit somtyds nodig wees om dit aan te wend om uit ‘n nood situasie te kan beweeg. ‘n V6 kragbron is gepas met direkte , elektroniese brandstof inspuiting, MHEV turbo aanjaer met tussen verkoeler, petrol enjin, dubbel oorhoofse nokas met vier kleppe per silinder wat 331 kW krag voorsien tussen 5700 en 6700 o.p.m. en wringkrag van 600 Nm tussen 1900 o.p.m en 5000 o.p.m. Wanneer al hierdie krag aangewend word na die vier wiele, het jy ‘n voertuig van formaat. Volgens ingeligte bronne stel dit Audi instaat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 4,67 sekondes en volgens die vervaardiger is die topsnelheid 250 km/u. Volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 8,3l/100 km en met brandstofhouer wat 73 liter neem, kan daar ‘n aansienlike afstand afgelê word voordat dit nodig is om brandstof in te gooi.

‘n Agt spoed outomatiese ratkas hanteer die krag oorbrenging na al vier wiele en die oorskakeling daarvan vind seepglad plaas en dit is moeilik waarneembaar indien jy nie daarop ingestel is wanneer die oorskakeling plaasvind nie. Met die wringkrag beskikbaar is die motor in sy element in berge wêreld maar dit is ook selfs op die snelweg/dorp en stad in sy element.

Die bande wat gebruik word op die veel speek allooi wielnawe is Pirelli P-Zero met ‘n grootte van 255/35 R21. ABS remme is gepas met 340mm geventileerde skywe op die voorwiele en 330mm geventileerde skywe op die agterwiele. Om die rem vermoë te verbeter is daar EBD EBA rem ondersteuning gepas wat verseker dat die motor met veiligheid tot stilstand kan kom.

Die veerstelsels wat gebruik word is die beproefde produk van Audi wat bestaan uit onafhanklike, multi-koppeling met lug kussing vere en anti-rolstaaf op die voorste veerstelsel en onafhanklike multi-koppeling lug kussing vere met anti-rolstaaf op die agterste veerstelsel.

Buite afwerking is van hoogstaande gehalte met die bekende vier ring embleem van Audi op die sierrooster en aan die agterkant gemonteer en ook die S kenteken met die Quattro kenteken in die nabyheid. Matrix LED hoofligte sorg dat die pad in die aand deeglik verlig word wanneer daar gedurende nag gereis moet word. Van die kant gesien is dit ‘n heel aangename prentjie met die bekende sierlike lyne van Audi.

‘n Mini drukvlerk vorm deel van die bagasiebak deksel en op die twee hoeke steek daar twee uitlaatpype aan elke kant uit. Die klank wat daaruit kom is gedemp maar tog ook indrukwekkend. Wanneer die bagasiebak oopgemaak word, is daar 400 liter beskikbaar en wanneer die rug leuning van die agterste sitplek wat in ‘n verhouding van 40:20:40 verdeel is plat gevou word, vermeerder die inhoud na 984 liter. Die binne-afwerking van die bagasieruimtes is luuks en verseker dat bagasie wat gelaai word, nie sal beskadig nie.

Wanneer in die voertuig ingeklim word tref die eenvoudige dog luukse afwerking van die binnekant van die kajuit dadelik jou aandag. Die plat gedeelte aan die onderkant van die stuurwiel verseker dat daar met gemak agter die leer bedekte stuurwiel kan in geklim word. Die standaard toerusting beheer skakelaars op die stuurwiel verseker dat die toerusting in die kajuit gebruik kan word.Verskeie lugsakke is in die voertuig gemonteer en daar word gebruik gemaak van digitale instrumente met verskeie ander kleiner instrumente wat voor die bestuurder gemonteer is. In die middel van die instrumentpaneel is die aanraakskerm gemonteer met beheer kontroles vir ander toerusting in die motor. Van die toerusting sluit in lugversorger, radio met Bloutand en stem beheer, Sat-NaV, rit rekenaar, tru kamera, banddruk monitering, die vensters wat elektries beheer word, bestuurder se sitplek wat elektries verstelbaar is, windskerm veërs en ligte wat outomaties aan en afskakel en nog talle ander toerusting. In die middel konsole is die rat kies hefboom gemonteer en wanneer die middel konsole oopgemaak word is daar pakplek vir kleinere goedere. Die sitplekke is met leer bekleedsel bedek en die stuurwiel is vir hoogte en reik afstand verstelbaar. Kophoogte is 868 mmm en vir die knieë van die agterste passasiers is daar 769 mm beskikbaar.

Soos in die begin genoem is hierdie motor een van my persoonlike gunstelinge en dit kan aanbeveel word. Rygerief is van hoogstaande gehalte en om u te vergewis van die gehalte van die motor, kan u gerus u naaste Audi handelaar gaan besoek en dit vir ‘n toetsrit neem.