Kinderfonds sal CVO-skole help

Die land het ʼn swaar slag gekry met die uitbreek van die Covid-19 koronavirus wat gou en vinnig soos ʼn veldbrand versprei het in Suid-Afrika.

Baie mense het hulle werk verloor, sakeondernemings het hulle deure vir goed gesluit, en baie het weens infeksie met hulle lewens daarvoor betaal.

Geen sektor van die samelewing het die impak van die pandemie vrygespring nie, en die CVO-skole het ook die negatiewe uitwerking van die maande lange sluiting van skole gevoel – geestelik en finansieel.

Die bestuur van Die Vryburger Kinderfonds wil graag die volgende skooljaar help om skole wat dit moeilik vind om voort te gaan, finansieel bystaan om voortgang te verseker.

Met ons gereelde bydraers en donateurs, asook kerklike gemeentes, het dit nie maklik gegaan oor die afgelope maande nie, en daarom is die bekommernis oor die welstand van ons volk se kinders nie ongegrond nie.

Ons glo egter dat daar nog groot simpatie en meelewing is onder volksgenote wat dit erns maak om hulp te verleen aan CVO-skole, en daarom vra ons betyds dat sulke bydraes gerus na Die Kinderfonds se rekening inbetaal word.

Die nood is hoog, en die volk se beursies is byna leeg, maar in die geloof sal ons ook hierdie komende jaar n wesenlike verskil maak deur daardie skole wat die ergste geraak is, by te staan.

Donateurs kan die bankbesonderhede op die voorblad van Die Vryburger gebruik om inbetalings te doen waarvoor die bestuur by voorbaat dank betuig.