Japan: Suga gaan Premier Abe opvolg

Die jarelange vriend en ondersteuner van die Japanese Eerste Minister, gaan die nuwe premier van die land word.

Yoshihide Suga, die Minister wat bekend is vir sy magsposisie en invloed op die politieke terrein, het die afgelope naweek die regerende Liberale Demokratiese Party se leierskap verkiesing gemaklik gewen, en daarmee die weg gebaan om aangewys te word as die opvolger van Premier Abe.

Die 71-jarige Suga dien in die magtigste amp as hoof kabinet sekretaris en het die pos beklee in al die tyd wat premier Abe aan bewind was.

Suga word beskou as ʼn konserwatiewe politieke leier wat in die voetspoor van sy voorganger sal stap, en geniet ook die steun van die oorgrote meerderheid in die Party wat hom nou verkies het as leier.

Die Eerste Minister het sy uittrede aangekondig nadat hy verskeie kere opgeneem moes word in die hospitaal, en nie meer kans gesien het om weens sy gesondheid verder leiding te neem nie.