Hierdie Afrika rot kry medalje

ʼn Liefdadigheidsorganisasie in Brittanje het die groot Afrika rot wat Magawa gedoop is, met ʼn medalje vereer vir sy werk om mense se lewens te red.

Die rot is nou 7 jaar oud, en nader sy aftrede want Afrika rotte word nie ouer as so 8 jaar nie.

Magawa is ʼn jaar lank opgelei om gevaarlike landmyne op te spoor wat dan deur sy toesighouers skadeloos gestel word.

Hy het diens gedoen in Kambodja waar duisende landmyne begrawe is en net wag dat iemand op hulle moet trap.

Magawa weeg net meer as een kilogram, met die gevolg hy kan op die landmyn wees sonder dat dit afgaan, en daarom kon hy oor die jare 39 landmyne en 28 ander ploftoestelle uitwys met sy skerp reuk orgaan.

Hy het die goue toekenning ontvang vir sy lewensredding wat van onmeetbare waarde is, en gaan nou op pensioen na jare se eerlike, harde werk.

Die 141,000 vierkante meter wat hy “skoon gevee” het van landmyne, is waarskynlik meer as wat enige soldaat in Kambodja al kon verrig.

Kenners wys egter daarop dat daar nog ʼn paar miljoen landmyne in die Asiatiese landstreek wag om versteur te raak.