Afrikaner Selfbeskikking Party kap Ramaphosa

Die wanhopige pogings van Mnr Cyril Ramaphosa om die steun van die mees radikales in die ANC te verkry, raak al meer lagwekkend.

Dit blyk onder andere uit sy amptelike toespraak op Erfenisdag 24 September 2020 waarin hy probeer om sy kommunistiese regering se skreiende skandes weg te steek agter wanvoorstellings oor die geskiedenis en sy belofte om alle sogenaamde “monumente en standbeelde wat Suid-Afrika se verdelende verlede verheerlik” in die land te verwyder en “nuwe” standbeelde en monumente op te rig.

Hy stel klaarblyklik nie meer belang daarin om vir die wêreld weg te steek dat hy nie versoening met ligvellige mense in Suid-Afrika soek nie. Hy misbruik belangrike herdenkingsdae soos Versoeningsdag en nou Erfenisdag om kwade gevoelens aan te wakker teen ligvelliges. En in hierdie proses skroom hy nie om wanindrukke te skep nie.

Hy gee voor dat die geskiedenis vòòr sy party se bewindsoorname een van “vooroordeel en uitsluiting” was.

Hy verswyg ook dat die ligvellige Suid-Afrikaanse regerings vòòr 27 April 1994 tien donkervellige inheemse nasies se tradisionele grondgebiede wetlik uit die grondgebied van die groter Suid-Afrika vir daardie volke gepartisioneer en gereserveer het om daarin volkome vry te kon word en om hul volle potensiaal as volke te kon uitleef.

 Hy verswyg ook dat die ligvellige Suid-Afrikaanse belastingbetalers jaarliks aan daardie state  biljoene rand uit die Suid-Afrikaanse begroting betaal het om noodsaaklike staatssinstellings vir daardie volke, soos skole, universiteite, hospitale, howe, paaie, lughawens, fabrieke, sport- en kultuursentrums in daardie volkstate te vestig. Hy verswyg ook die feit dat miljoene donkervellige Suid-Afrikaners en buitelanders steeds te alle tye in “wit” Suid-Afrika gewerk het.

Hy maak weereens die bewering dat sy regering ǹ verenigde, nie-rassige nasie wil bou. Dit word weerspreek deur sy bekende wanvoorstellings oor plaasmoorde op blanke boere en oor die bedoelings waarmee die Voortrekkers Natal in 1838 binne gegaan het en waarom die Slag van Bloedrivier op 16 Desember in daardie jaar plaasgevind het, sy opsweping teen ligvelliges oor ligvelliges se grondbesit, sy uitgesproke voorneme om ligvelliges se grond sonder vergoeding te onteien en sy regering se voortslepende rasse-diskriminasie teen die ligvellige minderheid in Suid-Afrika onder die dekmantel van  sogenaamde regstellende aksie en “swart ekonomiese bemagtiging”.

Mnr Ramaphosa bluf niemand meer nie. Sy regering wil die standbeelde en monumente wat die bevolking kan herinner aan die land se suksesverhaal vòòr die kommunistiese ANC-bewindsoorname in 1994, verwyder.

Die vervalle staatsinfrastruktuur op alle terreine, staatskorporasies en die land se bankrotskap, rekord werkloosheid, wydverspreide korrupsie en algemene ineenstorting van wet en orde in die land is sy regering se monumente.

Uitgereik deur : Jurg Prinsloo SC

Leier, Afrikaner Selfbeskikking Party