Ace het Cyril dalk uitgedaag

Dit is bekend dat die Sekretaris-Generaal van die ANC, Ace Magashule, daarvan beskuldig word dat hy deel van die korrupte ANC leiersfigure is en boonop n Zuma ondersteuner is.

Met die jongste voorval waarin hy die klaarblyklike voortou geneem het om die afvaardiging na Zimbabwe te lei, en boonop met die weermag se uitsoek vliegtuig daarheen te reis, word hy gesien as die uitdager wat president Cyril Ramaphosa se gesag wil toets, of wil ondermyn.

Die president word nou getoets of hy oor die spiere beskik om Magashule voor stok te kry oor sy optrede, maar politieke ontleders sê die president gaan eerder ʼn ander roete volg om Magashule aan die pen te laat ry.

Ace se verweer dat die politieke krisis wat in Zimbabwe geheers het, met sy afvaardiging se besoek reggeruk is, kan die president se plan kelder, maar dit is duidelik dat die mag spel besig is om momentum te kry.

Die Ramaphosa oorwinning in die ANC vergadering is slegs die een geveg van ʼn oorlog wat gaan voortduur, en Ramaphosa sal sy kaarte goed speel om seker te maak dat hy die meerderheid se steun behou.