Uit my Kuierkombuis

‘n Resep wat altyd deur jou huismense,  gaste,  groot en klein geniet word, is vetkoek!  Ons het nou al die vinnige vetkoekies gemaak, maar die resep waarna ons nou gaan kyk,  is vir vetkoek wat lyk soos suurdeegvetkoeke,  maar waarvan die rysmiddel bakpoeier is.

Vetkoek

Bestanddele:

500 ml koekmeelblom

25 ml witsuiker

10 ml bakpoeier

Knippie sout

2 ekstragroot eiers

250 ml kookwater

Kookolie vir vlak braai van die vetkoeke

Metode:

  1. Sif die koekmeelblom, suiker, bakpoeier en sout saam.
  2. Klits die eiers in ‘n mengbak en klits die kookwater by die eiers.  Klits dit goed deur.
  3. Voeg nou die eiermengsel by die droë bestanddele en meng met ‘n houtlepel tot goed deurgemeng.
  4. Skep vervolgens desertlepels van die deeg in ‘n braaipan in vlakolie wat vooraf matig verhit is.
  5. Braai tot mooi bruin aan die een kant en draai versigtig om na die anderkant om ook tot bruin te bak.
  6. Skep uit in ‘n bak uitgevoer met kombuispapier om olie te absorbeer.
  7. Bedien warm,  sny deur met ‘n skerp mes,  smeer met botter en geniet met stroop of konfyt,  enige sout smeer,  gerasperde kaas,  of fyn biltong.

Die beslag kan ook verdubbel word.