Tien dae kan ‘n leeftyd wees

Tien dae van stof, bloed en staal, 39 jaar gelede. (24 Augustus – 2 September 1981)

“Operasie Protea” – bekend baie van ons.  Protea was egter een van talle operasies en veldtogte, hoofstukke uit die Bosoorlog en die stryd teen kommunisme.

Daar is in die afgelope maande en jare ʼn toenemende neiging om in 1994 ʼn streep te trek – ook deur baie van “ons mense, meermale die jonger geslag wie aanspraak wil maak op hul geleenthede.

Sekerlik nie verkeerd nie …

Baie van ons, wat groot geword het aan “die verkeerde kant” van 1994, gun ons jongmense, óns kinders, hul geleenthede – dit was immers vir álmal se toekoms wat ons geveg het.

Maar daarmee saam ook ʼn pleidooi aan daardie kinders:

MOENIE BLOOT DINK JY KAN ʼN STREEP TREK IN ONS GESKIEDENIS EN JOU EIE DAARSONDER PROBEER SKRYF NIE!

Ons was ook destyds jonk, ons het ook uitgesien na ons eie drome en geleenthede – voor ons het ook die belofte gewink.

Maar ter wille van ons land, ons mense, ons waardes en ons toekoms het ons aangetree – ons het opgestaan en ons WAS DAAR, WAS DAAR EN WAS GETEL.

Ons was in die geledere wat onbaatsugtig diensplig gaan doen het.

Tien dae in 1981 … maar óók talle dae oor vele jare, in vele teaters van optrede, het drome en ambisies gesneuwel, of is onherstelbaar rangeer deur beserings – fisies en  emosioneel.

Die wonde en pyn het wyd gestrek:

gesinne, kinders, kleinkinders, weinig is sonder letsel deur daardie meule.

Opofferings het ingesluit dat baie gesinne, kinders soms tweede gestel moes word.

Die hoogste offers het vele drome afgesluit voordat dit kon begin; vele meer se drome het oornag in nagmerries ontaard …

En diegene wat teruggekeer het, was binne enkele jare die muishonde van die samelewing!

Ons was die rug gekeer deur universiteite, deur werkgewers, deur groot dele van “ons mense”.

Oor die dekades het daardie kloof, tragies, net gegroei …

Die jongste onder ons is reeds in ons laat veertiger jare.

Baie worstel met die spoke van destyds, baie is gelukkiger en het nie dieselfde las van post traumatiese stres sindroom nie.

Maar ons het een en almal daardie ouderdom bereik wat ons meer gereeld terugkyk, meer gereeld terugdink – aan die lewenspad afgelê tot hier, maar óók die lewenspad wat nie kon wees nie.

En hier kruis ons gedagte-paaie met uitsprake wat, sekerlik goed bedoel, ons lewenspad voor 1994 wil rangeer tot ʼn voetnota.

Slaan tog ag dat ons lewenspad was vir óns net so belangrik, as julle s’n vir julle. Onthou ook:

          dat óns lewenspad as jong soldate was die fondasie van jóú hede (en toekoms)

          dat ons toekoms nie die gegewe was wat dit vir meeste vandag is nie

dat ons die koue skouers van 1994 meermale gelate aanvaar het, en ons eie nuwe werklikheid gebou het

          dit wat vandag nog staande is, is staande omdat óns volhard het

Ons vra nie elke dag erkenning of dankbewyse nie;

ons kom uit ʼn geslag waarvan die meeste bereid was tot opoffering vir ander.

Maar ons is daarop geregtig daarop om nie bloot deur ons eie gerangeer te word nie!

Onthou saam met ons ook die dae van stof, bloed en staal.

Onthou saam met ons dat daardie pryse was betaal – ook vir jóú om nou te kan droom!

Leer uit hierdie geskiedenis – doen sélf meer om iets vir iemand anders ook te bou.

Staan op vir jou toekoms, maar moet dit nie bou op die afbreek van ons verlede nie!