Rusland begin ondersoek na vergiftiging

Die polisie in Siberië sê hulle het begin met ʼn intensiewe ondersoek oor die siekte toestand waarin die Russiese opposisieleier,  Alexei Navalny, hom bevind.

Die vermoede bestaan dat hy vergiftig is, en die span Duitse dokters is besig met behandeling in een van Europa se beste hospitale, met die hoop dat hy uit die koma verlos kan word.

Die Duitse Bondskanselier, Angela Merkel, het n dringende beroep gedoen op die Kremlin om onverwyld met n ondersoek te begin aangesien die vermoede al sterker word dat Navalny vergiftig is voor hy per vliegtuig vertrek het van Siberië terug na Moskou.

Aanvanklik het Russiese dokters in Siberie geweier dat die pasiënt na Duitsland vervoer word, maar het later toegegee dat dit wel gedoen mag word.

Vroeër het die Russiese vervolgingsgesag gesê hulle sien geen rede waarom n ondersoek na die voorval gemaak moet word nie, maar die optrede van kanselier Merkel het hulle tot ander insigte gebring.