Motor rubriek – Hyundai i30 N

Hyundai se produkte het deur die jare bewys dat dit betroubare voertuie is en hulle plek vol staan in die motor bedryf en die nuutste toevoeging tot die Koreaanse stal is die hoë werkverrigting i30 N, luikrug. In die proses is ‘n vlak betree waar die kompetisie straf is want daar moet meegeding word teen motors soos VW Golf R en die Renault Megane RS.

Die motor word in Czechia gebou en word dus volledig ingevoer. Die afwerking is van hoë ‘n standaard en wanneer daar in die motor ingeklim word, word ‘n mens getref deur die eenvoudige dog moderne afwerking. Die sitplekke is beklee met ‘n mengsel van materiaal en leer en daar word steun verleen aan al die strategiese plekke op ‘n insittende se liggaam. Die bestuurder se sitplek is elektries verstelbaar vir hoogte en dan natuurlik die normale vorentoe en agtertoe beweging. Die stuurwiel is reik afstand en hoogte verstelbaar en op die stuurwiel is daar ‘n verskeidenheid van skakelaars gemonteer wat toerusting beheer.

Regvoor die bestuurder is die instrumente gemonteer met die toereteller aan die linkerkant en die snelheidsmeter aan die regterkant. Kleiner instrumente maak deel uit van die groot instrumente en tussen dit is daar weer ander instrumente gemonteer. In die middel van die instrumentpaneel is die aanraakskerm gemonteer met beheer skakelaars vir toerusting onder dit. Luguitlate vir die lugversorger is onder die aanraakskerm en kan verstel word soos nodig. Van die toerusting wat gemonteer is sluit in ‘n radio met Bloutand gerief en stembeheer, snelheidsbeheer, rit rekenaar, parkeer hulp d.m.v. ‘n kamera, lugsakke vir veiligheid beskerming, banddruk meter, Isofix ankerpunte, windskermveër en hoofligte wat outomaties aanskakel, skakelaars vir die elektries beheerde vensters en die agterste sitplek leuning wat in ‘n 60:40 verhouding kan platvou. Wanneer die sitplek leuning platgevou word, vergroot die bagasieruimte van 248 liter na 808 liter.

In die middel konsole tussen die voorste sitplekke is die ratkies hefboom van die ses spoed standaard handratkas gemonteer met “N Grin Control” sagteware waarmee 5 verskillende vlakke gekies kan word met die handrem langs die bestuurder se sitplek. Wanneer die konsole oopgemaak word, is daar aansienlik bêreplek vir kleiner items en daar is ook plek vir byvoorbeeld koeldrank houers.

Aan die ses spoed hand ratkas is ‘n vier silinder, inlyn, dwars gemonteerde, elektroniese direkte brandstof inspuiting, turbo aangejaagde met tussen koeler, petrol enjin gekoppel. ‘n Dubbel oorhoofse nokas met vier kleppe per silinder laat die kragbron “asemhaal” en daar is 202 kW krag beskikbaar tussen 6000 en 6800 o.p.m. en die wringkrag is ‘n handige 353 Nm tussen 1450 en 4700 o.p.m. Dit stel die Hyundai in staat om van 0 tot 100km/u te versnel in 6,7 sekondes en volgens die vervaardiger is die topsnelheid 250km/u en die brandstofverbruik 8,5 l/100 km.

Vir die agterste passasiers is daar meer as genoeg sitplek en wanneer die agterste deure oopgemaak word, maak dit groot genoeg oop om met gemak te kan inklim.

Op die pad sorg die beproefde, onafhanklike MacPherson stutte met anti-rolstaaf op die voorste veerstelsel en onafhanklike multi koppeling, spiraalvere en anti-rolstaaf op die agterste veerstelsel dat die padgedrag van hoogstaande gehalte is. Op die snelweg is die motor in sy element en skerp draaie in bergwêreld, is eintlik sy “kos” want daar kan die krag aangewend word tot die bestuurder se voordeel en veiligheid. Die swart allooi wielnawe is geskoei met Pirelli P-Zero, 235/35 R19 bande en vorm uiteraard die belangrikste deel van die padgedrag.

Wanneer daar gekyk word na die versnelling en topspoed besef ‘n mens dat dit belangrik is dat die motor met veiligheid tot stilstand gebring moet word en daarom is die ABS remstelsel met EBD en EBA ondersteuning, van kardinale belang. Op die voorwiele is 345 mm geventileerde skywe gepas en op die agterwiele is daar 314 mm soliede skywe gepas.

Van agter gesien vorm die afwerking ‘n baie indrukwekkende prentjie! ‘n Mini drukvlerk op die agterkant en groot agterligte met die agterste klap wat tot op ‘n hoogte 1,8 m oopmaak en ‘n grondvryhoogte van 727 mm maak dit moontlik om bagasie met gemak te laai. Die dubbele uitlaatpype aan die agterkant vertel hulle eie storie want dit laat ‘n mens besef hierdie is nie ‘n gewone voertuig nie en wanneer daar voor om die voertuig gestap word, word die indruk bevestig.

Die vloeiende lyne van die voorkant vorm ‘n eenheid met die dak en dit gee ‘n sleurkoëffisiënt van 0,32. Die hoofligte vorm ‘n eenheid met die voorste buffer en modderskerms en die swart sierrooster met die bekende “H” embleem en die “N” kenteken op, lug inlate wat sorg vir die verkoeling van die kragbron en lug inlate aan die onderkant reg inlyn met die voorste skyfremme, voltooi die prentjie.

Hierdie is ‘n motor vir ‘n dame/man met “petrol” in sy are maar dit kan ook aangewend word vir Sondag se kerk besoek. Om u te vergewis van die kwaliteite kan u gerus u naaste Hyundai handelaar gaan besoek en dit neem vir ‘n toetsrit.