Medewerker maak goeie deurbraak

Graham O’Connor

Een van Die Vryburger se medewerkers het ’n skrywe gerig tot die Hoof Uitvoerende Beampte van die SPAR kettingwinkel groep, Graham O’Connor om sy standpunt te verneem aangaande plaasaanvalle en plaasmoorde.

Die gesiene sakeman het onomwonde en sonder huiwering gesê dat hy as ’n gebore plaasseun die sinnelose aanvalle ten sterkste veroordeel.

Hy sê dat dit nou bekend is dat om te boer in Suid-Afrika, een van die moeilikste beroepe is en daarom sal sy onderneming ook ’n bydrae wil lewer om hulp te verleen aan die slagoffers van plaasaanvalle.

O’Connor het dan ook sy winkelgroep se ondersteuning beloof aan die slagoffers, wat hulle plaaslike Spar supermark kan kontak vir bystand na so ’n aanval.

Die Vryburger en sy medewerker wil Graham O’Connor hartlik bedank vir sy positiewe gesindheid oor een van die land se grootste probleme wat betref die bedreiging van voedselsekerheid.

Die landbouers van SA kan gerus hierdie boodskap verder neem en georganiseerde landbou bewus maak van die standpunt van die Spar kettingwinkelgroep.