Die doolhof

Dekades gelede was daar die verhaal van n man wat geblinddoek was en in n doolhof gelos is om sy weg na buite te volg, maar omdat hy n lang stuk garingdraad afgerol het soos wat hy in die tonnels gelei is, kon hy daarmee weer sy weg terug kry na buite.

In Suid-Afrika sal dit n besonder lang stuk garing wees wat benodig word om uit die doolhof van korrupsie en diefstal te kom/

In die afgelope week het die skandaal van oneerlikheid weer skerp onder die soeklig gekom en is die brief van die president aan die party maar n nuttelose oefening.

Om diegene wat skuldig bevind is aan korrupsie nog steeds nie met ʼn toepaslike straf vas te vat nie, is maar tekenend van die regeringsparty se grootpraat politiek waarvan die uitkoms ʼn muis sal baar.

In die afgelope 25 jaar het die ANC regering van een leier na die volgende, almal een gemeenskaplike probleem openbaar, dat hulle nie oor die eienskappe beskik om n land soos Suid-Afrika ma nuwe hoogtes te neem nie, en het almal vasgesteek by ideologiese standpunte wat geen ekonomiese voorspoed vir die inwoners beteken het nie.

Die korrupsie gaan voort, die geweld sal nie ophou nie, die plaasmoorde sal die landbouers noodsaak om al meer paraat te word teen die aanvalle, die ekonomiese groei sal taan tot die land ʼn tweede Zimbabwe geword het.

Intussen moet die Boere-Afrikaner sy vlam van strewe na volkome vryheid brandend hou, want dit is die enigste uitkoms wat volhoubaarheid in ons voortbestaan sal verseker – vryheid in ons eie land, soewerein onafhanklik en geregeer deur ons volksgenote wat deur die volk verkies is.

Die doolhof waarin ons tans verkeer, noodsaak dat ons die spreekwoordelike garingdraad afrol sodat ons uiteindelik die terugtog na vryheid koersvas kan aandurf.