VSA: Veertien in hospitaal na skietery

In Chicago het ’n klein oorlog veroorsaak dat minstens 14 mense inderhaas na hospitale geneem moes word weens die erns van die skietwonde wat opgedoen is.

Die polisie kon nog nie vasstel wat die geweldige skietery veroorsaak het, en wie daarby betrokke was nie, maar die vermoede bestaan dat dit twee bende-groepe kan wees wat mekaar met wapens aangeval het.

’n Woordvoerder van die polisie sê dat die mense oor ’n parkeerterrein gestrooi gelê het, en minstens 9 van die gewondes is in ’n kritieke toestand na nabygeleë hospitale geneem.

Die byna geheimsinnige voorval hou klaarblyklik verband met die begrafnis wat deur een deel van die skieters bygewoon is, maar geen inligting is beskikbaar oor wie die tweede groep is nie.

’n Voertuig met ses mense daarin het om die toneel verskyn, en die skietery was so hewig dat minstens agt koeëlgate in die voertuig gevind is nadat dit die pad verlaat en teen ’n konstruksie gebots het.