VSA onttrek meer troepe uit Duitsland

Die Amerikaanse Minister van Verdediging, Mark Esper, het bevestig dat voorstelle hangende is om 6,400 Amerikaanse troepe in Duitsland terug te trek na die VSA, en ’n verdere 5,400 sal verskuif word na ander basisse in Europa.

Die verskuiwings sal beteken dat sowat een derde van die Amerikaanse troepemag wat tans diens doen in  Duitsland, uit die land onttrek sal word.

Die verskuiwing is die grootste verplasing van troepe uit Duitsland sedert die afloop van die Tweede Wêreldoorlog, en militêre deskundiges reken dit sal Duitsland en Europa verplig om hulle troepemag tot versterking van Navo, te vergroot om die leemte wat gelaat word aan te vul.

Die VSA sê die Europese lande doen nie hulle deel om Navo te sterk teen moontlike aggressie nie, en is dus nie bereid om die groot bydrae te maak terwyl ander lande toekyk nie.

Vroeër die maand het die Pentagon aangekondig dat President Donald Trump goedgekeur het vir die onttrekking van 9,500 Amerikaanse troepe uit Duitsland.

Nagenoeg 25,000 Amerikaanse troepe sal steeds in Duitsland diens doen, en die vermoede bestaan dat die onttrekking na ander dele van Europa sal ’n verskuiwing na Pole beteken.