Vragmotor stakers knel sitrusboere

Die uitgebreide staking van vragmotorbestuurders het ’n erge letsel gelaat in die sitrusbedryf en duisende kartonne sitrus vrugte staan en wag om na hulle bestemmings vervoer te word.

Die onwettige staking het die wankelende ekonomie van Suid-Afrika net nog ’n meter nader aan die afgrond gebring, en boere in die bedryf het met bekommernis gesien hoe die vrugte kan benadeel word as dit te lank van markte weerhou word.

Die meer as 1,500 vragmotorbestuurders wat aan die onwettige staking deelgeneem het, se verweer is dat hulle in verset is oor die mense uit ander Afrikalande wat in diens geneem word en sodoende die plaaslike werkers uit die bedryf druk en werkloos laat.

Vrugte wat bestem is vir die uitvoermark, kon nie by die hawens afgelewer word op die bestemde tyd nie, en die reeds oorlaaide hawens sukkel om die bederfbare produkte betyds verskeep te kry.