VN waarsku ryk lande

Die Verenigde Nasies het ’n waarskuwing gerig tot die ryk lande van die wêreld om nie hulle hulp aan die ontwikkelende state te weerhou wat swaar getref is deur die koronavirus pandemie nie.

Die VN sê navorsers se inligting toon dat baie van die wereld se minder stabile nasies verkeer in die grootste nood en op die rand van ineenstorting.

Vrydag het die VN ’n beroep gedoen op die welvarende lande in die wêreld om ’n bykomende $3,6 miljard beskikbaar te stel om die voortgaande pandemie in verskeie van die armste state teen te werk.

Gedurende Maart vanjaar is $2 miljard bewillig wat met $6,7 miljard aangevul is in Meimaand om verligting te bring.

Van al die beloftes het die VN tot nou slegs $1.7 miljard ontvang om die arm lande te ondersteun, terwyl daar hulp gegee moet word aan 63 lande.

Die VN sê die ongevoelige optrede van ryk lande kan veroorsaak dat hulle later ’n duur prys gaan betaal as hulp nie gegee word nie.

Ekonomiese deskundiges wys daarop dat dit nou ’n algemene gebruik geword het by sekere lande van die wêreld om finansiële beloftes te maak ten behoewe van die arm lande, maar die belofte nooit nakom nie.