Uit my Kuierkombuis

Wintertyd is sinoniem met gebakte nagereg en tuisgemaakte vla! My aangetroude Ma het dié lekkerste Malva poeding in die oond gemaak!  Uitgeswel van die romerige sous, geurig en soet!

Daar is talle resepte op die internet deesdae,   maar ek het nou die dag ‘n resep gesien om die malvapoeding in die mikrogolf te maak!  Twaalf minute se gaarmaaktyd,  dan kan jy smul aan die lekkerte!

Sorg dat jou vla nie te soet is nie,  dan komplimenteer die twee mekaar ………… of soos daar ook daarna verwys word,  dan “trou die twee met mekaar!”

Japtrap-MIkrogolf Malvapoeding

(Erkenning vir die resep aan Retha Booysen van Rensburg)

Bestanddele

65 ml botter

250 ml suiker

15 ml appelkooskonfyt

1 eier, geklits

250 ml bruismeel

5 ml koeksoda

250 ml melk

15 ml asyn

Klits botter en suiker tot room. Voeg konfyt by.

Klits eiers en voeg by bottermengsel.

Voeg bruismeel by.

Los koeksoda op in die melk en voeg by die mengsel.

Voeg die asyn by die mengsel en roer goed.

Skep in vlak mikrogolf bak en bak vir 10 – 12 minute op hoog in mikrogolf.

Sous:

250 ml ingedampte melk**

100 ml suiker

125 ml water

Meng die sousbestanddele en verhit effens sodat suiker kan oplos.

Gooi oor warm poeding sodra dit uit die oond kom.

Bedien met vla of roomys.

** Ek het die hele blikkie ingedampte melk gebruik.

Vir die regte dikte vla kan die volgende tabel gebruik word. Saam met die malvapoeding,  is die medium dikte vla net reg.

Dikte van vlaVlapoeierSuikerMelk
Loperig30ml (2 eetlepels)45 ml500 ml
**Medium45ml (3 eetlepels)45 ml500 ml
Dik67,5ml(4 eetlepels)45 ml500 ml
  1. Meng die vlapoeier, suiker, knippie sout en 50 ml van die melk totdat daar geen klontjies meer is nie.
  2. Kook die res van die melk tot kookpunt en roer dit vinnig by die vlamengsel.
  3. Gooi terug in kastrol en bring weer tot kookpunt terwyl dit deurentyd geroer word sodat dit nie aanbrand nie.
  4. Bedien warm saam met die malvapoeding.
  5. Die hoeveelheid suiker,  kan volgens jou behoefte aangepas word.  Onthou ook altyd die knippie sout.