Uit my Kuierkombuis

‘n Vleissoort wat ons baie mee kan doen,  is maalvleis.  Daar is soveel geregte wat daarmee gemaak kan word.

Hierdie week maak ons ‘n resep wat tog so bietjie buite die gewone is,  naamlik ‘n maalvleis broodjie.   Ek het  in die tagtiger jare ‘n resep in ‘n mikrogolf bylaagboekie gekry wat ‘n ek gereeld gemaak het vir my gesin. 

Die droë rooi wyn,  kan vervang word met rooi druiwesap.

Maalvleis broodjie

60 ml droë rooi wyn

60 ml melk

250 ml sagte broodkrummels

1 kg binneboud maalvleis

1 eier liggies geklits

1 ui fyn opgesny

5 ml sout

5 ml mostertpoeier

3 ml gemengde kruie

3 ml veggie speserye

Vars gemaalde swartpeper na smaak

Metode:

  1. Week die broodkrummels in die wyn en melk.
  2. Voeg hierby die geklitste eier, gekapte ui  en geurmiddels en meng goed deur.
  3. Voeg nou die maalvleis by en meng alles sorgvuldig deur tot goed gemeng.

Opsie een: (mikrogolf)

  1. Skep die mengsel in ‘n gesmeerde mikrogolf broodpan en mikrogolf op Hoog vir 12 minute of totdat vleis gaar is. 
  2. Bedek met waspapier en laat 5 minute staan.
  3. Keer uit op ‘n opdienbord,  garneer met gekapte pietersielie en/of tamatieskyfies.

Opsie twee: (elektriese oond / glasoondjie (convectionaire/sunbeam)

  1. Skep die vleismengsel in ‘n gesmeerde langwerpige oondpannetjie en bak vir 50 minute in ‘n voorverhitte oond van 180̊ C
  2. Laat staan vir 5 minute in pannetjie voordat dit uitgekeer word in opdienbord.
  3. Garneer met pietersielie en/of tamatieskyfies.

Die gereg word warm bedien saam met rys en groente van u keuse.

(Die vleisbroodjie op die meegaande foto,  is een van twee.  Ek het die maalvleis met 200 gr vermeerder en die geurmiddels dienooreenkomstig aangepas.  Die vleis is toe in twee pannetjies verdeel wat nie hoogvol gemaak is nie.  Soos u kan sien op die foto,  is die porsies glad nie klein nie …. Twee snytjies van die maalvleisbroodjie is ‘n voldoende porsie vir ‘n volwassene.)