Uit my Kuierkombuis

Die resep wat ek hierdie week vir u plaas,   is ‘n heerlike andersheid op die melktert wa! 

Die melktert word met min moeite gemaak!   Dit is altyd ‘n wenner op die tee/koffie tafel veral met die andersheid wat die kors betref!  Die leë blikkie van die  kondensmelk word ook sommer vir ‘n maathouer ingespan.

Hierdie melktert het ‘n lang benaming,  maar al die pad die lang naam werd!

Mikrogolf Melktert met ‘n suurlemoen Kinkel

Kors:

1 pakkie lemon creams/suurlemoen roompies (200g)

80 ml botter gesmelt

Beslag:

1 blikkie (225g) kondensmelk

2 van die kondensmelkblikkie, gevul met kookwater (375 ml)

25 ml koekmeelblom

25 ml vlapoeier

25 ml maizina (mielieblom)

125 ml melk

3 ekstra groot eiers geskei

37,5 ml botter

5 ml vanieljegeursel

Knippie sout

Kaneel om oor die vulsel te strooi.

Metode:

  1.  Verkrummel die beskuitjies in ‘n voedselverwerker.
  2. Smelt die botter en meng dit goed by die beskuitjiekrummels.
  3. Voer ‘n tertbak met 1,5 ml inhoudsmaat uit met die beskuitjiekrummelmengsel (ook teen die kante van die bak)

Vulsel metode:

  1.  Mikrogolf die kondensmelk en kookwater vir 4 minute by 100% krag in ‘n groot mikrogolfvaste mengbak.
  2. Meng die koekmeelblom, mielieblom, vlapoeier en melk totdat die mengsel glad en sonder klontjies is.
  3. Klits die eiergele en meng die met die meelmengsel.
  4. Klits nou ‘n bietjie van die warm kondensmelkmengsel by die meelmengsel terwyl jy dit roer en meng dan die res van die warm mengsel daarby. 
  5. Plaas dit terug in die mikrogolfbak en mikrogolf vir 4 minute oop by 100% krag.
  6. Roer goed deur mbv ‘n ballonklitser en voeg die smeer en vanielje geursel daarby.  Meng goed deur.
  7. Klits vervolgens die eierwitte net tot styf en vou dit liggies in die melkpap in.
  8. Giet die vulsel nou in die voorbereide beskuitjiekrummelkors en mikrogolf die tert vir 4 minute by 90% krag.
  9. Strooi kaneel oor en laat rukkie afkoel.

Dit is ‘n heerlike tert …… nie te soet nie ……. en met daardie fyn sitrusgeur van die kors.