TLU SA eis verduideliking oor nuwe jag regulasies

TLU SA dring aan op ‘n verduideliking oor gewysigde regulasies wat Dinsdag in die Staatskoerant gepubliseer is en die reis oor provinsiale grense vir jagdoeleindes verbied. Die departement van omgewing, bosbou en visserye het met die wysigings ook ‘n stokkie gesteek voor akkommodasie vir jagters.
“Dit is uiters onverskillig en irrasioneel om sulke regulasies te publiseer,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “Dit is ‘n nog ‘n ekonomiese slag vir wildsboere wat reeds groot verliese gely het as gevolg van die eerste weke van die inperking se regulasies. Ons lede het reeds deposito’s ontvang en voorbereidings getref vir jagters wat van ander provinsies by hulle sou gaan jag. Die risiko vir die verspreiding van COVID-19 op verafgeleë gebiede, waar min mense met mekaar in aanraking kom, is minimaal.”
Wildsboere moet vanjaar sonder die inkomste van internasionale jagters klaarkom en het staatgemaak op plaaslike jagters om gedurende die jagseisoen ‘n gedeelte van hulle inkomste op te maak. Daar is nou baie min geleentheid vir hierdie boere om ‘n inkomste te verdien om sodoende die wildsplase aan die gang te hou. 
Dit sal ook ‘n invloed hê op werksgeleenthede. Volgens ‘n verslag van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) in April, is 67% van werknemers in die wildbedryf negatief geraak deur die beperkings.
In baie landelike gebiede is die plattelandse ekonomie afhanklik van jagters en wildsboere se spandering. Dit is inderdaad wat die landelike omgewing aan die gang hou.
“Ons versoek die departement en regering om ‘n verduideliking te verskaf waarom hierdie regulasies skielik gewysig is,” sê mnr. Meintjes. “Boere is reeds baie ontevrede oor hoe die inperking hulle beïnvloed, terwyl die regering op hulle staatmaak om voort te gaan om voedsel te produseer. Die dag sal kom wanneer boere nie meer in hierdie vraag kan voldoen nie.”