Taai verkiesing in Noord-Masedonië

Die kiesers van Noord-Masedonië het hulle stemme uitgebring in die verkiesing wat eers later gehou kon word weens die Covid-19 pandemie.

Dit is die eerste verkiesing van sy soort sedert die land besluit het op ’n naamsverandering deur “Noord” by te voeg ter wille van vrede met die bure in Griekeland.

Die ondersteuners van die party wat pro-Europese Unie is, het aanvanklik die voortou geneem in die verkiesing, en het toe 37% van die stemme getrek teenoor die 36% van die nasionaliste in die land.

Die etniese Albaniese Demokrate is in die derde plek met net meer as 10% steun, wat ’n oorwinning in die verkiesing onvoorspelbaar maak.

Die syfers is vrygestel nadat 71% van die stemme getel is, en die uitslag is moeilik bepaalbaar tussen die regerende party van Premier Zoran Zaev en sy grootste opponent, Hristijan Mickovski.