Sjina laat VSA konsulaat sluit

Die “een vir jou, een vir my” speletjie tussen Amerika en Sjina gaan voort soos twee skoolkinders wat met mekaar rusie maak oor ’n stokkielekker.

Sjina het die VSA beveel om sy konsulaat in Chendu, Sjina te sluit madat die kommuniste beveel is om hulle konsulaat in Houston, Texas, binne drie dae te ontruim.

Amerika het die Sjinese daarvan beskuldig dat hulle konsulaat personeel deel uitmaak van ’n spioenasie netwerk en klaarblyklik ook betrokke kan wees by pogings om entstof vervaardigers se vertroulike inligting te kaap.

Die gebeure dra by tot die verdieping van die kloof tussen die twee moondhede en die vertroebeling in die verhouding het ook bygedra tot die swak handelsbetrekkinge wat tans heers.

Sjina het as verweer vir sy besluit gesê die stap is ’n noodsaaklike reaksie op die “onredelike maatstaf” van die Verenigde State toe hulle besluit het dat die Sjinese konsulaat in Houston moet sluit.