Sigaret feite kan wending bring

’n Nuwe verslag wat oor die rook van sigarette vrygestel is, kan moontlik ’n uitwerking meebring op die regering se benadering oor die verbod op verkope van tabak produkte.

Ingeligte bronne beweer dat die nuwe feite in die verslag die regering se verdediging van hulle standpunt, finaal kan kelder, aangesien die studie wat gedoen is en gepubliseer is deur die Universiteit van Kaapstad, opspraakwekkende inligting bevat.

Volgens die verslag het die swartmark sigaret verkope en die rokers getalle met 457% gestyg in die afgelope twee maande, ongeag die feit dat die prys daarvan baie hoër is as die winkelprys.

Dit staan in direkte kontras met die regering se benadering dat die verbod op verkope van sigarette sal lei tot ’n afname in rokers getalle.

Volgens die Universiteit se navorsings verslag het 91% van die rokers hulle gewend tot die aankoop van swartmark sigarette, wat ’n bewys is dat die rokers nie opgehou het om te rook nie, ongeag die geweldige hoë prys wat die sigarette kos.