Sanksies oorweeg teen Sjinese kommuniste

Uit Washington word berig dat die Trump-administrasie tans oorweging gee aan die moontlikheid om reis sanksies in te stel teen alle lede van die Sjinese Kommunistiese Party wat die VSA wil besoek.

Die sanksies sal ook van toepassing wees op die partylede se hele familie, wat volgens kenners beteken dat die sanksies feitlik op alle mense van Sjina betrekking sal hè.

Waarnemers wys daarop dat so ’n stap ernstige gevolge inhou in die reeds verslegtende verhouding tussen die twee groot moondhede, en sal die geringe handel wat nog bestaan tussen die twee, verder benadeel.

Die moontlikheid van so ’n radikale stap is egter nog in ’n vroeë stadium van oorweging, en sal eers later aan die president voorgelê word vir verdere oorweging.

Die twee state kon nie ’n handelsooreenkoms bereik nie, en die invoerheffings bly dus van krag, en die konflik oor die Sjinese se poging om sy seegebied te vergroot in die Suid Sjinese See gebied is die faktore wat die verhouding ernstig beïnvloed.

Intussen het die VSA ook sy ooreenkoms met handelsvoorkeur aan Hong Kong teruggetrek, wat die verhouding nog verder versuur het.