Russe en Sjinese veto hulp-plan

Die Verenigde Nasies is steeds verdeeld oor die wyse waarop die oorlog geteisterde Siriërs gehelp moet word om ’n ramp te voorkom.

Die jongste voorstelle wat ingedien is, het Rusland en Sjina daartoe beweeg om dit te veto, en daarmee die debat van voor laat begin.

Die optrede van Sjina en Rusland volg nadat die VN oorweldigend gestem het teen Rusland se voorstel dat die grensposte in Sirië aansienlik verminder moet word.

Rusland en Sjina het die voorstel wat deur Duitsland en België ingedien het vir die humanitêre hulp aan Sirië, summier teengestaan en die voorstelle geveto.

Die hulp is bedoel om die rebellemagte wat teen die Assad regering veg, te hulp te kom nadat Russiese vegvliegtuie verwoesting gesaai het en die burgerlikes sonder mediese dienste en behoorlike voedingstof gelaat het.

Rusland is ’n getroue ondersteuner van die diktator, President Bashar al-Assad en wil die grensposte na Turkye drasties verminder sodat noodvoorraad nie daarvandaan na die rebellemagte vervoer word nie.