Motor rubriek – Toyota Corolla 2,0 Xr CVT

Die Corolla was en is steeds een van die gewildste Toyota produkte in die motor mark. Wanneer ‘n mens se gedagtes terug gaan na die eerste Corolla’s en daar word gekyk na die heel nuutste, is daar geen vergelyking. Wanneer daar besoek gebring word aan ‘n Toyota Handelaar en die vertoonkamer word genader is die sierrooster gedeelte van die motor die opvallendste. Hierdie verlengde gedeelte van die motor word dadelik opgemerk en die groot luginlaat gedeelte met die mat swart afwerking laat ‘n mens vir ‘n oomblik dink aan die Lexus. LED hoofligte vorm ‘n eenheid met die voorste buffer en wanneer die enjinkap oopgemaak word, is daar ‘n vier silinder, 1987 kub. sentimeter, vier kleppe per silinder en dubbel oorhoofse nokas, dwars gemonteerde kragbron in plek. Hierdie kragbron met die elektroniese, direkte brandstof inspuitstelsel sorg dat daar 125 kW beskikbaar is tussen 6600 en 6800 o.p.m. en die maksimum wringkrag is 200 Nm tussen 4400 en 4800 o.p.m. Volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 6,0 l/100 km en met brandstofhouer wat 50 liter brandstof hou, is dit dus moontlik om ‘n aansienlike afstand te reis sonder om brandstof in te moet gooi.

‘n CVT ratkas hanteer die krag oorbrenging na die voorwiele en ESC met bykomende ondersteunende hulp vir wanneer daar teen ‘n skotige opdraande weggetrek moet word, sorg dat ‘n rit met die motor, van uitstaande gehalte is. Op die snelweg of selfs op rowwe oppervlak paaie is daar geen geraas binne in die voertuig waarneembaar nie.

18 duim allooi wielnawe geskoei met Dunlop SP Sport Maxx 050, 225/40 R18 bande, sorg dat die motor op die pad bly. Die voorste veerstelsel bestaan uit MacPherson stutte met spiraalvere en ‘n anti-rolstaaf en die agterste veerstelsel bestaan uit ‘n onafhanklike, dubbel wensbeen met spiraalvere en ‘n anti-rolstaaf, stelsel.

Die binne-afwerking is van hoogstaande gehalte en die bestuurder se sitplek met elektriese verstelling sorg dat ‘n gemaklike sitposisie ingeneem kan word sodat die langpad te midde van gerief aangepak kan word. Die ander sirplekke is ook gerieflik en soos dit die geval is met die bestuurder se sitplek, is daar ondersteuning vir die liggaam op al die strategiese plekke. Op die drie speek stuurwiel, waarop ‘n stewige greep kan uitgeoefen word, is verskeie skakelaars aangebring om die toerusting mee te beheer. Regvoor die bestuurder, gesien deur die boonste helfte van die stuurwiel is die instrumente gemonteer met die snelheidsmeter wat die grootste is en die die toereteller daar langsaan. Al die ander instrumente maak ook deel uit van die groter groep met ‘n aanraakskerm gemonteer in die middel van die instrumentpaneel. Toerusting soos ‘n lugversorger, radio, snelheidsbeheer, parkeerhulp kamera, die bekleedsel van die sitplekke wat bekend staan as Rezatec bekleedsel wat bestaan uit ‘n mengsel van materiaal en leer afwerking sorg vir gerieflike sitplekke, hoofligte en windskermveërs wat outomaties aanskakel, lugsakke ensovoort is standaard toerusting. Die ratkies hefboom is in die middel konsole gemonteer met bykomende pakplek vir kleiner artikels in die gedeelte tussen die voorste sitplekke. Al die vensters word elektries oop en toegemaak met skakelaars in die armleuning.

‘n Verdere veiligheidsaspek wat baie belangrik is, is ‘n ABS remstelsel met EBD en EBA ondersteuning. Geventileerde skywe op die voorwiele en soliede skywe op die agterwiele sorg dat die voertuig met gemak en veiligheid tot stilstand gebring kan word.

Van agter gesien, is dit ‘n aansienlike gesig met ‘n klein ingeboude drukvlerk wat deel vorm van die bagasieruimte se deksel waarin ‘n gedeelte van die agterligte ingebou is en die res van die ligte wat weer deel vorm van die agterste modderskerm. Die bekende Toyota embleem is in die middel van die deksel gemonteer met die Xr kenteken aan die regterkant. Wanneer die bagasiebak se deksel oopgemaak word, is daar 376 liter pakplek beskikbaar en wanneer die 60:40 verdeling van die sitplek rugleunings gedoen word, verhoog die volume van die bagasieruimte na 856 liter.

Hierdie is die ideale familie of maatskappy Bestuurder motor en indien u in die mark is vir so ‘n voertuig, kan u gerus u naaste Toyota handelaar gaan besoek en u vergewis van die kwaliteite van hierdie motor.