Motor rubriek – Suzuki S-Presso1,0 S-Edition

Suzuki is bekend daarvoor dat hulle die spreekwoordelike “haas uit die hoed” trek.

Met die nuwe S-Presso 1,0 kan daar verwag word dat dieselfde gaan gebeur as met die ander Suzuki produkte. Sedert 1984 toe die motor mark deur Suzuki met erns betree is, was en is dit ‘n sukses verhaal.

Hierdie dorp/stad motor kan ‘n welkome toevoeging tot ‘n bestaande of eerste voertuig in ‘n familie wees. Wanneer dit van voor genader word is dit opmerklik hoe hoekig die bouvorm daaruit sien. Eerste word die bekende “S” embleem opgemerk, dan die vier silwer kleurige luginlate aan weerskante van die embleem, die groot luginlate van die sierrooster na die kragbron en dan die silwer afwerking van die skermplaat aan die onderkant van die neus gedeelte.

Van die kant gesien is daar beskerming op die deure aangebring om te verseker dat wanneer ‘n voertuig wat langs die Suzie geparkeer is en die se deur oopgemaak word, is die moontlikheid dat dit beskadig word, beperk. Die deur handvatsels en die sykant spieëls is dieselfde kleur as die bakwerk en op die voorste modderskerm is daar ‘n oranje liggie aangebring wat aandui dat die flikkerligte aan is wanneer daar gedraai gaan word.

Wanneer ‘n deur oopgemaak word, kan daar met min moeite ingeklim word en daar is sitplek vir vier volwassenes. Vir die bestuurder is daar op die materiaal bedekte sitplek, meganiese verstellings wat verseker dat ‘n gemaklike sitposisie ingeneem kan word. Vir die agterste passasiers is daar meer as genoeg plek vir mense met lang bene. Daar is 746 mm beenspasie beskikbaar. In die middel van die stuurwiel is die bekende groot “S” embleem aangebring met ‘n lugsak in die middel. ‘n Groot ronde instrumentpaneel in die middel van die voorste paneel huisves die instrumente met die aanraakskerm en die digitale snelheidsmeter is bokant dit gemonteer. Die voorste deure se vensters word elektries beheer met die skakelaars wat weerskante van die noodflikkerligte skakelaar gemonteer is.

Van die toerusting wat gemonteer is sluit in ‘n lugversorger, radio met USB prop en Bloutand gerief, parkeer hulp met kamera ensovoorts.

Die ratkies hefboom van die vyf spoed ratkas pas gerieflik in die linkerhand en die rat skakeling vind seepglad plaas. Hierdie is ‘n bekende kenmerk van alle Suzuki produkte. Die ratkas is aan ‘n drie silinder, 998 kub. sentimeter, inlyn, dubbel oorhoofse nokas, vier kleppe per silinder, elektroniese brandstof inspuiting kragbron gekoppel. 50 kW is teen 5500 o.p.m. beskikbaar en die wringkrag is 90 Nm by 3500 o.p.m. Die werkverrigting is van hoogstaande gehalte vir hierdie klein parmant en volgens die vervaardiger is die brandstofverbuik ‘n handige 4,9 liter/100 km. Na verneem word neem die versnelling van 0 tot 100 km/u 13,18 sekondes en alhoewel ‘n mens dit nie gereeld op die lang pad gaan gebruik nie, kan dit tog gedoen word.

ABS remme met EBD hulp sorg dat dit met gemak en veiligheid tot stilstand kan kom. Padgedrag is van hoogstaande gehalte en MacPherson stutte, met spiraalvere en ‘n anti-rolstaaf op die voorste veerstelsel en ‘n wringstaaf met spiraalvere op die agteste veerstelsel sorg dat die voertuig tot sy reg kom. Staal wielnawe word gebruik en is met 165/70 R14 MRF ZVTV Ecotred bande geskoei. ‘n Vol grootte, staal naaf noodwiel word onder ‘n skerm in die vloer, in ‘n holte in die bagasie ruimte gebêre.Op die agterste deur is ‘n mini drukvlerk gemonteer en die agterste deur maak tot op ‘n hoogte van1,7 meter oop. Die agterligte se grootte is van so ‘n aard dat dit goed inpas by die agterkant van die voertuig. Onder die agterste buffer is daar ‘n mat silwer skermplaat wat die afwerking aan die agterkant goed afrond. Binne in die voertuig is op strategiese plekke hegpunte aangebring waaraan goedere vasgemaak kan word. Die grondvry hoogte is 180 mm en selfs paaie met ruwe oppervlakte kan aangedurf word.

Hierdie is ‘n handige voertuig wat vir enige doel aangewend kan word en indien u in die mark is vir hierdie tipe voertuig, kan u dit gerus op u aankopelys plaas en u naaste Suzuki handelaar gaan besoek en reël vir ‘n toetsrit.