Motor rubriek – Ford Roush RS3 Mustang

Wanneer daar gesprek gevoer word met motor liefhebbers sal baie noem dat daar verskeie motors is wat hulle graag in hulle motorhuis sal wil parkeer. Een van my persoonlike keuses van baie, is die Ford Mustang.

‘n Bykomende toevoeging tot die Mustang reeks, is die Roush RS3. Hierdie ontwikkeling wat met Ford se waarborg ondersteun word, is ‘n “juweel”. Deur verskeie veranderings aan te bring aan ‘n gewone standaard Mustang GT, is die Roush instaat om letterlik en figuurlik te sorg dat jy behoorlik hoendervleis word wanneer dit bestuur word. Dit gebeur natuurlik wanneer al die “perde” ingespan word en die brandstofpedaal teen die vloer vasgetrap word.

Van die ontwikkeling wat gedoen is, is om ‘n druk- aanjaer te pas en ook is die remstelsel opgegradeer om die motor met die minste moeite veilig tot stilstand te bring. Daar word syfers genoem dat die motor binne 2,7 sekondes van 100km/u tot 0, tot stilstand gebring kan word. Daar moet in gedagte gehou word dat die motor se gewig meer is as 1800 kg. Verdere ontwikkelings wat gedoen is, is dat daar bykomende verkoelingstelsel bygebring is. Die volume van die enjin verkoeler is vergroot. Daar is bykomende verkoeling van nagenoeg 80% vir die tien spoed outomatiese ratkas bygebring en daar is selfs verkoeling op die agteras aangebring.

Daar moet in gedagte gehou word dat die werkverrigting aansienlik verhoog is en wanneer dit aangewend word, moet daar seker gemaak word dat die ontwikkeling van hitte wat daarmee gepaard gaan en dit moet na wense beheer word. Syfers wat beskikbaar is noem dat die 5 liter V8 nou krag van nagenoeg 550 kW teen 6210 o.p.m en wringkrag van nagenoeg 880 Nm teen 4670 o.p.m., beskikbaar stel en versnelling syfers van 0 tot 100 km/u van minder as 5 sekondes, word genoem.

Omdat daar gebruik gemaak is van die gewone, standaard GT se toerusting, is daar nie veranderings aan die binne-afwerking aangebring nie. Dit is ook nie nodig nie want die binne-afwerking is nog altyd van hoogstaande gehalte. Daar is egter van die toerusting soos byvoorbeeld matte waarop die “Roush” kenteken op aangebring is. Die leer bedekte, drie speek stuurwiel met die bekende Mustang kenteken huisves verskeie skakelaars vir die beheer van toerusting en daar is ook klein netjies afgewerkte lepels agter die stuurwiel gemonteer waarmee rat skakeling gedoen kan word. Deur die boonste gedeelte van die stuurwiel is die instrumente leesbaar met die snelheidsmeter aan die regterkant en die toeteller aan die linkerkant wat oorbeweeg na die regterkant.

Onder die luguitlate in die middel van die instrumentpaneel is die aanraakskerm gemonteer met verskeie ander handige toerusting binne maklike bereikbare afstand onder dit. Die kort rathefboom pas gerieflik in die linkehand en tussen die toereteller en die snelheidsmeter, verskyn die aanduiding in watter rat die Mustang geskakel is. Agter die ratkies hefboom is daar bêre plek vir ‘n koeldrank houer en links van dit is die handrem gemonteer. Die gedeeltelike leer bedekte sitplekke is gerieflik en bied ondersteuning aan al die nodige plekke van jou liggaam. Verskeie verstellings is moontlik om ‘n gerieflike sitposisie te kan inneem.

Aan die buitkant van die bakwerk, is dit die bekende koepee afwerking van die Mustang wat die aandag trek waar daar ookal beweeg mag word op die pad. Van voor gesien trek die luukse dog mat swart afwerking van die sierrooster dadelik die aandag. Die hoofligte vorm deel van die voorste buffer en op die enjinkap is daar luginlate ingebou om te help met die verkoeling van die kragbron. Wanneer die enjinkap oopgemaak word is die afwerking van só aard dat die enjin bykans onsigbaar is. Die monteerpunte van die voorste veerstelsel is duidelik sigbaar asook die waterhouer van die verkoeler.

Van die kant gesien rond die 20 duim allooi wielnawe geskoei met 255/35 bande op die voorwiele en 285/35 bande op die voorwiele, die prentjie netjies af. Die sykant spieëls is dieselfde kleur geverf as die bakwerk en die wielnawe is met mat swart afwerking gedoen. Aan die agterkant vorm die bekende Mustang agterligte deel van die bakwerk met die “Roush” naam wat onder die drukvlerk aangebring is.

Hierdie is motor vir die dame/man met “petrol” in haar/sy are en indien dit die geval is met u, is dit die aangewese motor vir u om aan te skaf – wens ek en my bankbestuurder het mekaar beter geken!

Indien u reeds ‘n standaard Ford Mustang GT besit en dit is minder as ‘n jaar oud en die kilometers is nog nie hoog nie, kan u dit laat omskep in ‘n Roush deur die ontwikkeling te laat doen.