Merkel negatief oor EU ooreenkoms

Die Duitse Bondskanselier, Angela Merkel, se opmerkings voor die aanvang van die vergadering van die Europese Unie het die indruk gelaat dat sy nie baie positief is oor wat moontlik besluit sal word nie.

Die twee dae van debatvoering in die EU vergadering wat in Brussel gehou sal word, het ten doel om ’n bedrag van €750 miljard goedgekeur te kry as noodfonds aan lidlande weens die Covid-19 pandemie.

Kanselier Merkel het haar kommer uitgespreek, en verskeie ander lidlande het haar siening gedeel dat dit dalk nie ’n haalbare projek sal wees nie.

Sy sê almal gaan met die verwagting na die vergadering dat die begrote syfers aanvaar word, maar daar is steeds te veel groot verskille onder lidlande, wat die voorlegging kan kelder.

Die lidlande is self ook op ekonomiese gebied swaar getref, wat die genereer van die enorme bedrag bemoeilik, en daarom sal ’n groot bereidwilligheid onder die leiers moet bestaan as die noodfonds met so ’n bedrag moet wegspring.