Korrupsie in Covid Fonds word ondersoek

Die ANC se president, Cyril Ramaphosa, het verlede week aangekondig dat ondersoek ingestel word op moontlike korrupsie met die Noodfonds wat slagoffers van die pandemie moet help.

Ramaphosa was duidelik ongemaklik oor die bewerings dat ongerymdhede plaasgevind het met die Fonds se geld, en het ook verwys na die uitdeel van kospakke aan minder gegoedes, wat deur die beamptes misbruik is vir eie gewin.

Die president het gewaarsku dat daar geen ongerymdhede geduld sal word want die Fonds is uitsluitlik bedoel om verligting te bring aan diegene wat swaar getref word deur die koronavirus pandemie.

Hy het uiteindelik ook daarop gewys dat die ondersoek verder gevoer sal word na onwettige eise en uitbetalings van die Werkloosheid Versekerings Fonds (WVF).

Die Vryburger het vroeër gemeld dat sowat 4,000 onwettige eise ingedien is vir werkloosheid versekering, maar kommer bestaan dat daar moontlik veel meer sulke eise was wat uitbetaal is.