Koerierdienste nou sindikate se teiken

Die toename in kapings van koerierdiens voertuie is aan die orde van die dag, en die sindikate is op hoogte van watter voertuie gekaap moet word.

In die afgelope week is minstens drie gevalle aangemeld van sindikate wat op die voertuie van koerierdienste toegeslaan het, en is klaarblyklik goed ingelig oor watter vragmotors met duursame goedere onderweg is.

Ook in die Johannesburg omgewing word koerierdienste deur die sindikate geteiken, en die vermoede bestaan dat sekere instansies waarvandaan duursame goedere versprei word, deur die sindikate ingesypel is om met die bewegings en aflewerings op hoogte gehou te word.

Miljoene Rand se goedere word daagliks in die Gauteng provinsie met koerierdienste aan ondernemings en individue afgelewer, en dit is veral die groter aflewerings van duursame artikels wat die grootste risiko geword het.