Japanse eiland kry nog reën

Baie dae van swaar deurdringende reën in die suidelike deel van Japan het nie net strate en paaie in riviere verander nie, maar ook grondverskuiwings wat mense se lewens geëis het veroorsaak.

Die  dodetal het gestyg en die soektog na nog vermiste mense word bemoeilik deur die onbegaanbare paaie en brûe wat oorstroom is.

Intussen is bykans 4 miljoen mense ontwrig en doen reddingswerkers hulle bes om die mense verskuif te kry uit vrees dat nog swaar reën kan uitsak.

Die owerheid is bekommerd oor die reën wat nou ook na die sentrale gebied van Japan uitsak en weervoorspellings dui op nog baie reën wat kan volg.

Die swaar reën wat reeds Saterdag begin het, het nou ook vanaf die suide na die noordelike gebied getrek en die weerburo sê die swaar reën is veel erger as wat verwag is.

Minstens 58 mense het omgekom in die gure weersomstandighede en vele word vermis waarna reddingswerkers soek vir die afgelope paar dae.