Hulp: VN se vyfde poging slaag

Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het Saterdag goedgekeur dat hulp aan Sirië gegee mag word via die een grenspos van Turkye.

Dit volg na na ’n stryd van ses jaar waarin humanitêre hulp nie beskikbaar was vir duisende Siriese burgers in groot dele van die land, maar veral in die noordelike streke.

Die VN het die hulpverlening vis die Turkse grenspos as die “lewenslyn” vir die inwoners van die land bestempel en die 15 lidlande van die Veiligheidsraad wat vier keer nie tot ’n besluit kon kom nie, het uiteindelik ’n deurbraak gemaak.

Rusland en Sjina het telkens die stok in die wiel gedruk, en selfs meerderheidsbesluite geveto, maar die toegewings na elke kant kon later ’n finale besluit laat formuleer.

Die Russe en Sjinese het egter hulle sin gekry dat daar slegs een toegangsroete moet wees vir noodhulp, en daarmee die stryd gewen teen diegene wat wou sien dat die hulp deur al die Turkse grensposte gelewer moet word.