Gautengse veldhospitaal word ondersoek

Die Suid-Afrikaanse Menseregte Kommissie het gister ’n ondersoek gedoen na die Nasrec veldhospitaal by Johannesburg wat onlangs omskep is vir die opneem van pasiënte wat koronavirus infeksie opgedoen het.

Die Nasrec gebou is ingerig om die verwagte toename in pasiënte te akkommodeer wat Covid-19 infeksie het en gehospitaliseer moet word in ’n tyd wat die verspreiding van infeksie feitlik daagliks aan die toeneem is.

Gauteng het tans meer as 35% van die totale infeksie in Suid-Afrika wat dit genoodsaak het om ’n veldhospitaal gereed te kry, maar daar bestaan ernstige bedenkinge oor die fasiliteite, en daarom wil die Menseregte Kommissie glo sekerheid kry dat die standaarde aan gestelde vereistes voldoen.

Ingeligte bronne wys daarop dat die staatshospitale in ’n bedenklike toestand is, en dat daar ernstige twyfel bestaan oor die status van die veldhospitaal.