FNB staak tjekboek uitreiking

Die handelsbank FNB sê hy sal ook vanaf 1 Januarie 2021 nie meer tjekboeke uitreik aan sy kliënte nie.

Die bank se kliënte sal egter nog steeds die tjeks wat hulle op hande het, mag gebruik as wettige betaalmiddel, maar nuwe tjekboeke sal nie meer in 2021 uitgegee word deur die bank nie.

Die aankondiging volg etlike weke nadat Absa besluit het om aan die einde van 2020 nie meer tjekboeke uit te reik nie.

FNB sê diegene wat op 1 Januarie 2021 nog tjeks op hande het, sal ses maande gegun word om dit te gebruik, waarna dit algeheel verval as betaalmiddel van die bank.

FNB wys daarop dat die besluit geneem is omdat die gebruik van die tjek as betaalmiddel so skerp afgeneem het dat die stelsel nie meer funksioneel is nie. Die Bank het in Mei vanjaar slegs betalings van sowat R50,000 gehad wat per tjek betaal is, en wil sien dat kliënte eerder met die kaartstelsel en die internet hul betalings doen.