EU stop uitvoere na Hong Kong

Die Europese Unie het besluit om sekere uitvoere na Hong Kong op te skort en te verbied weens die Sjinese se omstrede veiligheidswet wat op die wêreldstad afgedwing is.

Duitsland sê die stap om veral die uitvoer van tegnologies gevorderde goedere te verbied sal ook tot nadeel vir Sjina wees aangesien dit dieselfde roete sal volg as ander goedere na Sjina, wat met die verbod bekamp sal word.

Die Europese Unie se optrede word gesien as ’n navolging van die Trump-administrasie se besluit om die Sjinese se honger na die tegnologiese ontwikkeling in Westerse lande te beperk.

Die strenger optrede teen Sjina en Hong Kong is ’n direkte uitvloeisel van die kommuniste se pogings om groter beheer uit te oefen op die bedryf van Hong Kong met die in werking stel van die veiligheidswet wat die polisie meer mag gee om teen die pro-demokrate van die stad op te tree.