Eskom hou Soweto sonder krag

Die nasionale kragvoorsiener kan aggressie en woede verwag van die inwoners in Soweto nadat hulle vir ses weke sonder krag moes klaarkom.

Eskom het onderneem om Soweto se woonhuise en die sakepersele om te skakel na vooraf betaalde meters, en die projek sou binne ses weke afgehandel wees.

Eskom het gesê die omskakeling word gedoen deur die hele gebied se krag af te sny tot die omskakeling afgehandel is, maar nou blyk dit dat die taak nog lank nie afgehandel is nie, en ses weke is verby.

Inwoners het nou in opstand gekom oor die lang wagtyd en die aankondiging dat die omskakeling nog nie afgehandel is nie, en honderde inwoners het die naweek saamgedrom uit protes teen Eskom.

Die massa optog na die kantoor van Eskom in Soweto het ’n sterk sein van groot ontevredenheid gedra, en die woordvoerders het geëis dat die krag aangeskakel word wat nou reeds vir weke nie beskikbaar was nie.