Dlamini-Zuma in vuur oor R20 miljard

Die Portefeulje Komitee oor Departement Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het nou druk geplaas op die betrokke minister, Nkosazana Dlamini-Zuma, oor die R20 miljard uit die Covid-19 Fonds vir munisipaliteite.

Ontevredenheid bestaan oor die toekenning van so ’n reuse bedrag aan die munisipaliteite wat die geld moet aanwend om hulp te verleen aan mense op plaaslike vlak.

Vrae het nou ontstaan oor hoe die R20 miljard geadministreer sal word, en opposisiepartye is bekommerd dat munisipaliteite die geld moontlik kan gebruik vir ander doeleindes.

Die beskuldiging word gemaak dat munisipaliteite oor die algemeen ’n swak rekord het van hoe geld spandeer word, en die vele kere van korrupsie van die verlede hang nog swaar in die lug.

Die Ouditeer-Generaal het in sy onlangse verslag aangetoon dat slegs 8% van die land se munisipale owerhede ’n skoon oudit0verslag gehad het.

In die media, sowel as in die sosiale media, is kommer uitgespreek dat die geld aan munisipaliteite betaal word, maar dat die geld nie die punte bereik waarvoor dit bedoel is nie.