Bangladesh toets Sjinese entstof

Die regering van Bangladesh het goedkeuring gegee dat die Covid-19 entstof wat deur Sjina se Sinovac Biotech Ltd ontwikkel is, in hospitale getoets mag word.

Die besluit is geneem teen die agtergrond dat die koronavirus infeksies in Bangladesh aan die toeneem is in veral die dig bevolkte gebiede van die land.

Die ontwikkelaars van die entstof soek nou meer vrywilligers om aan die derde fase van toetse deel te neem, en pasiënte wat in hospitale is, kan vrywillig aan die projek deelneem wat aan die einde van Augustus sal begin.

Die land se Mediese Navorsingsraad sê die toetse word toegelaat nadat die Raad hom vergewis het van die noodsaaklikheid om die vervaardiging van entstof te bespoedig nadat verskeie aspekte van die entstof nagegaan is.